|
Article on other languages:
|
Homoseksualiteit is die beskrywing van 'n persoon se seksuele oriëntering of identiteit waar die seksuele aantrekking hoofsaaklik tot dieselfde geslag is. Die term gay word deur baie homoseksuele self verkies omdat 'n homoseksuele oriëntering op meer as net die geslagsdaad dui, en ander aspekte van die mens met so 'n oriëntering se lewe ook insluit. Naas homoseksualiteit staan heteroseksualiteit, waar die seksuele aantrekking tot die teenoorgestelde geslag is, en biseksualiteit, waar die aantrekking tot beide dieselfde as die teenoorgestelde geslag is, hoewel selde in presies dieselfde mate. Homoseksualiteit, biseksualiteit en heteroseksualiteit verteenwoordig die drie hoofklassifikasies van seksuele oriëntasie en identiteit en is die belangrikste faktore in die heteroseksueel-homoseksuele kontinuüm. Hulle is almal natuurlike verskynsels en kom in alle beskawings en periodes van die menslike ontwikkeling voor, in die huidige moderne geïndustrialiseerde samelewings net soos by natuurvolke in Afrika en Amerika. Homoseksuele verhoudings word dikwels ook by diere waargeneem.[1] Griekse geleerdes soos Parmenides het ten opsigte van homoseksualiteit na 'n "aangebore passie" verwys, Platon het vir sy beskrywing van homoseksualiteit biseksualiteit as die natuurlike oriëntasie van mense beskou en hoë etiese norme vir erotiese verhoudings tussen mans en seuns ontwikkel, terwyl Solon dit as 'n voorreg van vrye mans beskou het.[2] Die gebruik van die term heteroseksueel-homoseksuele kontinuüm deur wetenskaplikes verduidelik die feit dat seksuele oriëntering en identiteit dikwels nie suiwer afgebaken kan word nie. Alhoewel die persentasie homoseksueles in 'n gegewe samelewing moeilik is om te bepaal (sedert die 1950's het verskillende ondersoeke dit op tussen 2 en 7 persent beraam[3][4][5][6][7][8][9][10][11][12]), kom homoseksuele verhoudings dikwels ook onder mense voor wat eintlik as heteroseksueel geklassifiseer moet word en vorm sodoende deel van 'n natuurlike seksuele ontwikkelingsproses. Volgens 'n meningsopname het 12 persent van alle Nore reeds homoseksuele seks gehad[13] Die Amerikaanse deskundige Alfred C. Kinsey het met sy wetenskaplike ondersoeke daarop gewys dat 37 persent van Amerikaanse mans reeds een of ander homoseksuele ervaring opgedoen het.[14] In etimologiese opsig is homoseksueel 'n antieke Grieks-Latynse hibriedterm met Grieks homos ("dieselfde") as sy wortel. Die woord gay verwys gewoonlik na manlike homoseksualiteit, maar word nogtans soms ook in 'n breër betekenis gebruik om algemeen na menslike homoseksualiteit, insluitende dié van vroue, te verwys. In die konteks van seksualiteit verwys die term lesbies daarenteen uitsluitlik na vroulike homoseksualiteit. In die geskrewe geskiedenis van die mensheid kom daar baie verwysings na homoseksualiteit voor wat sowel sy aanvaarding asook seksuele onderdrukking en diskriminasie weerspieël. In die afgelope dekades was daar 'n sterk neiging in die rigting van verhoogde sigbaarheid, kulturele en maatskaplike erkenning asook verskansing van burgerregte vir homoseksueles, insluitende huwelike en burgerlike verbintenisse, erkenning van homoseksuele ouers, en gelyke toegang tot mediese dienste. In Suid-Afrika het Bybel-gebaseerde asook tradisioneel-seksistiese houdings en wanopvattings oor homoseksualiteit, wat hieruit sowel in Blanke asook Swart gemeenskappe voortgespruit het, van homoseksueles een van die hoof-slagoffergroepe van die Apartheidbewind asook voortgesette diskriminasie deur bepaalde religieuse en ander randgroepe in die nuwe bedeling gemaak, terwyl die land op staatsvlak met die grondwetlike erkenning van homoseksuele burgerregte, waaronder dié op huwelike, 'n besondere voorbeeld geword het. Verwysings
|
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.
Mercedes Car
This site monitored by SitePinger.net