|
Moldowa (Republica Moldova), voorheen Moldawië, is 'n republiek in Suidoos-Europa, grotendeels geleë tussen die Proet- en die Dnjestrrivier. Die land word in die weste begrens deur Roemenië en verder deur Oekraïne. Die hoofstad is Chisinau (Russies: Kisjinef). Die land word beskou as een van die armstes in Europa.
Die bevolking is oorwegend Moldowies (Sowjet-naam: Moldawies; 'n benaming wat na die skeiding van die res van Moldawië in gebruik gekom het: die inwoners van Roemeense Moldawië word as Roemeniërs beskou). Daar is ook Oekraïense, Russiese en Gagaoesiese minderhede.
Moldowa was tot in 1991 deel van die Sowjetunie as die Moldawiese Sosialistiese Sowjetrepubliek. Die grondgebied van die nuwe land kom heeltemal ooreen met dié van die voormalige Sowjetrepubliek en gedeeltelik met dié van die ouer Bessarabië (wat tot die Tweede Wêreldoorlog Roemeens was). Slegs die suidelikste en noordelikste deel van Bessarabië behoort tot die Oekraïne, terwyl die gebied aan die linkeroewer van die Dnjestr, Transnistrië, nooit tot Bessarabië behoort het nie, maar - volgens die oorgrote deel van die wêreldgemeenskap - wel behoort tot die huidige Moldowa. Transnistrië het in 1991 eensydige onafhanklikheid verklaar. Die tweede belangrikste stad van Moldowa, Tiraspol, lê in dié gebied.
Moldowa is in Maart 1992 toegelaat tot die Verenigde Nasies.
Bronne
Whitaker, Joseph. (2008) Whitaker's Almanack 2008. London: A. & C. Black. ISBN 978-0-7136-8554-1. bl. 925.
|