|
Noord-Korea staan amptelik bekend as die Demokratiese Volksrepubliek van Korea en is in Oos-Asië geleë, in die noordelike helfte van die Koreaanse Skiereiland. Noord-Korea is een van die laaste kommunistiese state in die wêreld en staan bekend vir sy geharde Stalinistiese regering.
Aan die suide grens Noord-Korea aan Suid-Korea. Die twee lande wat tot 1946 verenig was, word 248 kilometer lange 'gedemilitariseerde' sone verdeel. Aan die noorde grens Noord-Korea met die Volksrepubliek van Sjina en Rusland.
Die Koreaanse Werkersparty is in beheer en meer as 80% van regeringsamptenary behoort aan dié party. Die staat word deur 'n ideologie gedryf wat bekend staan as Juche. 'n Ideologie wat die selfvoorsiening van die volk nastreef en die volk as die subjek en meester van die sosiale rewolusie beskou. Mag is gesetel in die leierskap van die Koreaanse Werkersparty. Die leier van Noord-Korea is Kim Jong-Il wat op sy beurt ook die leier van die Koreaanse Werkersparty en die weermag is. Kim Jong-Il wat in Noord-Korea tot 'n kultusfiguur verhef is, het sy vader, Kim Il-sung, na sy dood in 1994 opgevolg.
Die Juche-ideologie is grootste dryfkrag na Noord-Korea se isolasie in die wêreld vandag. Die ekonomie het gestagneer deur die loop van die negentigerjare en het voedseltekorte in dele van die land teweeggebring. Noord-Korea is ook berug vir menseregteskendings wat spraakvryheid en bewegingsvryheid geweldig inperk.
Noord-Korea se internasionale verhoudinge is wankelrig. Reeds sedert die Koreaanse Oorlog is dié land se verhouding met sy bure gespanne. Noord-Korea is tegnies gesproke nog in 'n oorlog met Suid-Korea gewikkel. In die sewentiger- en tagtigerjare was Noord-Korea betrokke by die ontvoering van Japannese en Suid-Koreaanse burgers.
Bronne
Eksterne Skakels
|