|
Quebec is een van die tien provinsies van Kanada met 'n landoppervlakte van 1 540 687 vierkante kilometer en 7 719 993 inwoners (1 Oktober 2007). Die provinsie het grense met die Verenigde State in die suide, die provinsie Ontario in die weste en die provinsie Nieu-Brunswick (Engels: New Brunswick) in die ooste. Sowat die helfte van die grondgebied bestaan uit mere en riviere - die provinsie besit 16 persent van die wêreld se varswaterreserwes. Die noorde (Grand-Nord québécois) is arkties en yl bevolk, terwyl die vlaktes van die Saint-Laurentrivier tot die gematigde sone behoort. Die grootste stede is Quebecstad, die provinsiale hoofstad, en Montreal. Alhoewel Kanada Engels en Frans as amptelike tale het, is net Frans die amptelike taal van Quebec. As 'n oorblyfsel van die eertydse Franse kolonies in Noord-Amerika is die provinsie die enigste gebied op die vasteland met 'n Franssprekende meerderheid en 'n Franse regstelsel, die Code civil.
Simbole van die provinsieQuebec se vlag, die fleurdelisé, is 'n wit kruis op 'n blou agtergrond (die simbool van 'n christelike nasie) met vier lelies (Fleur de Lys) wat die Franse monargie versinnebeeld. Dit is die koninklike vlag wat die leër van generaal Montcalm, Marquis de Saint-Véran by hulle oorwinning in die slag van Carillon in die jaar 1758 gebruik het. Aangesien dit die simbool van die voormalige koningshuis van die Bourbone is, word dit in Frankryk sedert die Franse Rewolusie as kontrarewolusionêr beskou. Die fleurdelisé-vlag vervang op 21 Januarie 1948 die ou Britse Union Jack op die toring van die parlementsgebou en word die amptelike vlag van die provinsie. Die Nasionale Leuse is "Je me souviens" (Ek herinner my) - 'n trotse verwysing na die provinsie se kleurryke geskiedenis. Gilles Vigneault se lied "Gens du pays" word dikwels as die nie-amptelike volkslied van die provinsie beskou. Die nasionale blom is die Iris versicolor (blouvlag-iris), en die nasionale voël is die sneeu-uil. Die Heilige Anna en Johannes die Doper is die beskermheiliges van Frans-Kanada. 24 Junie, la Saint-Jean, is Quebec se nasionale fees en word sedert die jaar 1977 amptelik Fête nationale du Québec genoem. GeografieQuebec lê in die ooste van Kanada en word deur die Engelstalige provinsie Ontario en die Hudsonbaai in die weste, die Atlantiese Oseaan met die Labradorsee, die provinsie Newfoundland (Frans: Terre-Neuve) en die provinsie Nouveau-Brunswick in die ooste, die Verenigde State (met die deelstate Maine, New Hampshire, Vermont en New York) in die suide en die Arktiese Oseaan in die noorde begrens. Quebec is Kanada se grootste provinsie en beslaan sowat drie keer die oppervlakte van Frankryk. Die provinsie vorm 'n reusagtige landmassa, wat van die 45ste noordelike breedtegraad tot by die Arktiese See strek. Die grootste deel van die gebied, veral die noordelike gebiede van Nouveau-Québec, is egter yl bevolk. Meer as 90 persent van Quebec se oppervlakte lê binne die Kanadese Skild, 'n baie ou geologiese gebied, wat geskiedkundig ook as die Ungava-gewes bekend staan. Die Laurentides-gebergte noord van Montréal is die oudste bergreeks ter wêreld. In die jare 1898 en 1912 besluit die Kanadese Parlement om die groot noordelike gebiede, Le Grand Nord Québécois, by die provinsie te voeg. 'n Groot deel van die noord-oostelike gebiede maak oorspronklik deel uit van die Noordwes-Territorium. Hierdie gebiede sluit ook die Jamesbaai in, waar sommige van die grootste Kanadese hidrokragsentrales teen die La Granderivier opgerig is. Hulle word deur die maatskappy Hydro-Québec beheer, 'n onderneming in besit van die provinsie. Die gebied noord van die 55ste breedtegraad, Nunavik, is die tuisland van die Inuït. Die Sint-Laurensrivier is die lewensaar van die provinsie. Langs die rivier lê die digbevolkte sentrale gedeelte van die povinsie met die stede Montréal en Quebecstad. Die Sint-Laurens verbind danksy die Sint-Laurenswaterweg sedert die jaar 1959 die Groot Mere tussen Kanada en die Verenigde State met die Atlantiese Oseaan. Naas die Sint-Laurens beskik Quebec met sy een miljoen mere en riviere oor enorme reserwes van varswater. BevolkingDie bevolking van die Province du Québec bestaan uit die afstammelinge van die Franssprekende en Engelssprekende setlaars en die Eerste Nasies (Premières Nations of Amerindians, veral Iroquois en Hurone, en Inuït). Daarbenewens het immigrante van dwarsoor die wêreld hulle in Quebec gevestig. Sedert 1945 het 650 000 immigrante uit 80 lande 'n nuwe tuiste in Québec gevind. 83% van die totale bevolking praat Frans, sowat 12% is Engelstalig. Daar is minderhede van Sjinese, Portugees-, Grieks- en Italiaanstaliges. Die grootste deel van die Québécois leef langs die Fleuve Saint-Laurent (Saint-Laurentrivier). Voor die aankoms van die Franse setlaars was die gebied van die huidige provinsie die tuiste van 'n aantal Indiaanse stamme - die Eerste Nasies. Die Provinsie Quebec erken vandag elf nasies op sy gebied - die Inuït, die Mohawks (Irokese of Iroquois), die Innus, die Cri's, die Algonkins, die Atikamekw, die Micmacs, die Hurone, die Abenaki's, die Malesiete en die Naskapi's. Die elf stamme van die Eerste Nasies het vandag sowat 70 000 lede en streef daarna om hul eie taal en kultuur te bewaar. Die Iroquois en Hurone is albei lede van die Irokese taalfamilie. Die naam "Huroon" is afgelei van die eieaardige kapsels van die mans. Die Franse woord l'huire, wat eintlik die opgesette borstels van 'n varken beskryf, word tot "Huroon" vervorm. In die tydperk tussen 1627 en 1663 neem die Franse bevolking van Quebec van 100 tot 2 500 toe. Die eerste setlaars se geledere is binne 35 jaar versterk deur sowat 1 250 immigrante, en danksy die natuurlike bevolkingsgroei het hierdie syfer verdubbel. Die Franse setlaars het veral uit die kusgebiede en hawestede van Noord- en Wes-Frankryk en die hoofstad Parys gekom. Die geskiedkundige provinsies, wat die grootste rol in die volksplanting in Quebec gespeel het, was Normandië, Aunis, Perche, Île-de-France, Poitou, Maine, Saintonge, Anjou en Bretagne. Die bevolking van Quebec het in die derde kwartaal van 2007 met 0,25 persent gegroei, en alhoewel hierdie syfer minder as die gemiddelde van Kanada is, het die aantal geboortes duidelik toegeneem. Vir die eerste keer sedert die 1980's is die natuurlike bevolkingsgroei sedert die begin van die jaar 2006 steeds hoër as die gemiddelde natuurlike bevolkingsaanwas vir die hele land.[1] Die Franse taal het die taalstryd in die sewentigerjare gewen: opskrifte en kennisgewings moes gewoonlik eentalig Frans wees. Die afskaling van Engels word vandag nie meer stelselmatig deurgevoer nie; Engelstalige opskrifte behoort egter steeds kleiner te wees as die Franse. Immigrante word deur die provinisiale regering gekies; in 'n poging om die persentasie Franstaliges te vergroot het baie Noord-Afrikane in die afgelope jare 'n verblyfpermit gekry. ImmigrasieIn die jaar 2003 is 37 619 immigrante aanvaar, veral uit Franstalige lande en voormalige Franse kolonies. Die belangrikste lande van herkoms is Frankryk, België, Haiti, Libanon, Marokko, Sirië en Algerië. Die tien grootste munisipaliteite volgens bevolking
Geskiedenis
EkonomieDie provinsie beskik oor 'n pos-moderne ekonomie wat 'n gemaklike handelsoorskot handhaaf. Ingevolge die vrye handel-ooreenkoms met die Verenigde State in 1987 het Quebec se uitvoere, waarvan sowat 85 persent vir die VSA-mark bestem is, aansienlik gestyg. In 2002 het Québec produkte en dienste ter waarde van 83,4 biljoen VSA-dollar ingevoer, terwyl sy uitvoere tot 92,2 biljoen VSA-dollar gestyg het. Die bruto geografiese produk per capita was in 2002 27 601 VSA-dollar. Die vallei van die Saint-Laurentrivier is 'n vrugbare landbougebied vir vrugte, groente en graan. Quebec is die belangrikste produsent en uitvoerder van esdoringstroop. Veeteelt is 'n verdere basis van die landbou. Groot natuurlike hulpbronne en bloeiende nywerhede verseker dat die inwoners van Québec tot die welvarendstes wêreldwyd behoort. Québec se bosbou, waterkragsentrales, elektroniese, telekommunikasie, lug- en ruimtevaartnywerheid is beduidende uitvoerders, veral na die VSA. Die hoëtegnologie-bedrywe in Montréal sluit lugvaartondernemings soos die straler-vervaardiger Bombardier, die stralerenjin-vervaardiger Pratt and Whitney en die vlugnabootser-vervaardiger CAE in. Hierdie wêreldbekende ondernemings en talle toeleweringsbedrywe maak van Quebec se lugvaartnywerheid die vierde grootste wêreldwyd. PolitiekDie goewerneur-generaal is die verteenwoordiger van koningin Elizabeth II as staatshoof. Die eerste minister (Frans: Premier ministre) is die leier van die regering en die grootste party in die eenkamerparlement (die Assemblée Nationale of Nasionale Vergadering). Ook die lede van die ministersraad word uit die geledere van die grootste party benoem. Sien ookVerwysings |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
This article is from Wikipedia. All text is available under the terms of the GNU Free Documentation License.
Mercedes Car
This site monitored by SitePinger.net